/
logo

Echo of Derogation

Artwork Description

ECHO OF DEROGATION /
​NEERHALENDE WEERKLANK, 2015

Bronze on Steel base
Edition of 8
1480 x 670 x 400 mm

 

 

Teen die klank van kabbelende water, leun twee identiese selwe, verewig ingekeer op en teenoor mekaar, in eenderse hout en brons: uitgekerf en grof na buite en blink gepoets na binne, op ’n staal voetstuk waarin die bolywe eindeloos kaats. Dit herroep twee refreine van Ingrid Jonker: “Eggo is geen antwoord / antwoord hy alom” en “’n spieël het gebreek / tussen my en hom”.

Effens weggedraai van mekaar, rus die twee beelde (ego en alter-ego) se koppe teen mekaar, saamgesmelt teen die slape – verbind soos met ’n skaduwee “waarover / waarover / de regen / eindeloos / vuil gutst” (Paul van Ostaijen). Onwillekeurig kom die mite van Narcissus en die bosnimf, Eggo, by ’n mens op, met die tematiese strominge van onbeantwoorde liefde, selfliefde, en die uiteindelike verwering van tyd en ydelheid; ook ’n refleksie van verworpenheid.

Die beeld lok die kyker nader om deel van ‘n drieling te word. Jy kan kwalik die twee figure se neerhalende blik wat afwaarts kruis, miskyk. Dit lei jou oog en dan jou lyf tot waar jy tussen beide beelde staan en sélf ’n eggo word, of altans ’n versinnebeelding van die gespletenheid van ’n enkele persoon in sy/haar lyflike bestaan – die objek waarna die Siamese tweeling staar. Die eggo word ego; ‘n drie-eenheid, ongoddelik ingekeer op en teenoor mekaar, saamgesmelt teen die slape, en konstant die weerklank van kabbelende water.

 

In Portfolios

EnglishFrenchGerman